Biografie

LOUIS ESTERHUIZEN

Louis Esterhuizen behaal ’n B.A. (Hons.) in Afrikaans aan die Universiteit van Suid-Afrika. Hy gee onderwys by verskeie skole en word later adjunkhoof van Pretoria Boys’ High School. In 1999 verhuis hy na die Kaap waar hy vakhoof vir Afrikaans by Rondebosch Boys’ High School word. Van 2002 tot einde 2016 was hy bestuurder van Protea Boekwinkel op Stellenbosch.

Sedert Januarie 2017 is hy voltyds ‘n vryskutwerker wat as tekspraktisyn alle vorme van taalversorging en manuskripontwikkeling hanteer; dienste wat hy reeds vir etlike dekades op deeltydse basis aan verskeie instansies gelewer het. Hieronder resorteer keurverslae, resensies, rubrieke en skryfskole; veral ten opsigte van die digkuns.

Esterhuizen debuteer met die digbundel Stilstuipe (1986), waarna Op die oog af (1988), Die onderwaterweg (1996), Patzers (1997) Opslagsomer (2001), Liefland (2004) en Sloper (2007) volg. Sy agtste digbundel wat die water onthou verskyn in 2010 by Protea Boekhuis en word bekroon met die Protea Poësieprys vir 2011.  Die bundel was ook genomineer vir die UJ prys vir Letterkunde en die ATKV Woordveertjie vir Poësie (2011). Hierna volg Amper elders (2012) en Die afwesigheid van berge (2014). Sy mees onlangse bundel is Die gladde stiltes in glas wat in September 2020 by Protea Boekhuis verskyn het.

Van sy verse is in verskeie bloemlesings opgeneem, te wete Poskaarte, Die Afrikaanse Poësie in ’n 1000 en enkele gedigte, Groot Verseboek, en Nuwe Verset. Hy was een van die stigters van Bekgevegte, ’n verbale “boksgeveg” waartydens twee spanne van drie digters elk teen mekaar meeding aan die hand van temas wat deur die gehoor gegee word.

Esterhuizen is saam met sy vrou, Marlise Joubert, ‘n inisieerder van die jaarlikse poësiefees Versindaba wat van 2005 tot 2009 op Stellenbosch aangebied was. Van 2009 tot 2016 was hy saam met haar verantwoordelik vir die gelyknamige webblad wat steeds as kollektiewe weblog bedryf word ter ondersteuning van die Afrikaanse digkuns.

Vertalings/translations:

Nederlandse vertalings van Afrikaanse gedigte

English translations of some Afrikaans poems

***