Manuskripontwikkeling

Die Afrikaanse boekbedryf het die afgelope jare in dié mate gegroei dat dit tans waarskynlik tot voordeel van die skrywer is om van ‘n tekspraktisyn se dienste gebruik te maak ten einde sy/haar manuskrip tot ‘n aanvaarbare standaard af te rond vóór dit aan die uitgewer van sy/haar keuse ter oorweging van publikasie voorgelê word.

Dit is ‘n voldonge feit dat bitter min manuskripte wat deur uitgewers ontvang word, vir publikasie aanvaar word. En dit beteken nié dat al die manuskripte wat weggewys word, sonder verdienste is nie. Die feit is egter dat elke manuskrip wat ontvang word, ‘n koste-implikasie het: ten opsigte van sowel leestyd as bedryfskostes. Die uitgewer lees besmoontlik enkele hoofstukke en besluit daarvolgens ten gunste van  moontlike publikasie al dan nie. Indien “ja” word die manuskrip na ‘n keurder gestuur vir ‘n keurverslag (wat verdere kostes impliseer) en indien “nee” word die manuskrip aan die skrywer teruggestuur. En al word ‘n bepaalde manuskrip na ‘n buiteleser gestuur, beteken dit helaas nog nié dat dit vir publikasie aanvaar gaan word nie omrede daar ook die verkoopspotensiaal van ‘n bepaalde teks binne ‘n uiters dinamiese mark is  wat in ag geneem moet word.

Hoe dan nou verder? Jy het immers tyd en moeite belê in ‘n teks wat nou van die hand gewys is; hetsy deur die uitgewer self, óf die keurverslag.

En dit is presies op dié punt, of nog vroeër, waar die manuskripontwikkelaar die skrywer – selfs die uitgewer – tot hulp kan wees. Die ontwikkelaar kan in sy/haar hoedanigheid as ‘n empatiese en kundige leser help om ‘n bepaalde manuskrip nie net struktureel nie, maar ook taalkundig te versorg in dié mate dat dit vir die uitgewer ‘n haalbare opsie ten gunste van publikasie word aangesien dit minder insetkostes vir hom/haar tot gevolg het.

Op persoonlike vlak: weens my agtergrond as skrywer in eie reg, en ook my uitgebreide ervaring in die boekbedryf, is ek op unieke manier in staat om hierdie verskeidenheid dienste as bemiddelaar tussen die skrywer en uitgewer te kan lewer; ook ten opsigte van die markgerigtheid van die teks en advies oor watter uitgewer volgens hul publikasielys die beste heenkome vir jou manuskrip sal wees.

Alhoewel die finale besluit nog altyd die uitgewer s’n is, verhoog dit nogtans die kanse op ‘n suksesvolle voorlegging indien jy op eie onkoste van die dienste van ‘n tekspraktisyn gebruik maak.

Die dienste wat ek aanbied, is die volgende: manuskripontwikkeling, lees- en keurverslae, redigering, proefleeswerk en teksbegeleiding tot en met die punt van publikasie.

Dankie dat u oorweeg om my hieromtrent te nader.

Louis Esterhuizen